Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk

Elizabeth II
Koningin van die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en ander Statebondsryke
Koningin Elizabeth II in 2015.
Koningin Elizabeth II in 2015.
Vorstehuis Windsor
Titels HM die koningin
HKH prinses Elizabeth, die Hertogin van Edinburg
HKH prinses Elizabeth
HKH prinses Elizabeth van York
Regeer 6 Februarie 1952 - 8 September 2022
Kroning 2 Junie 1953
Voorganger George VI
Opvolger Charles III
Volle naam Elizabeth Alexandra Mary
Gebore (1926-04-21)21 April 1926
Mayfair, Londen
Oorlede 8 September 2022 (op 96)
Balmoral-kasteel
Eggenoot Prins Philip (getroud 1947, tot sy afsterwe in 2021)
Kinders Charles
Anne
Andrew
Edward
Vader George VI
Moeder Elizabeth Bowes-Lyon

Elizabeth II (Elizabeth Alexandra Mary; 21 April 1926 - 8 September 2022) was vir meer as 70 jaar die koningin van die Verenigde Koninkryk en 14 ander onafhanklike state en hul oorsese gebiede.[1]

Elizabeth is in Mayfair, Londen, gebore as die oudste kind van die Hertog en Hertogin van York (later koning George VI en koningin Elizabeth). Haar vader het die troon in 1936 bestyg ná die abdikasie van sy broer, koning Edward VIII, en Elizabeth het die vermoedelike troonopvolger geword. Sy is tuis privaat onderrig en het haar openbare verpligtinge in die Tweede Wêreldoorlog begin. In November 1947 is sy getroud met Philip Mountbatten, 'n voormalige prins van Griekeland en Denemarke. Hulle huwelik het 73 jaar geduur tot met sy dood in 2021, en hulle het vier kinders gehad: Charles, Anne, Andrew en Edward.

Met haar vader se dood in Februarie 1952 het die destyds 25-jarige Elizabeth die koningin van sewe onafhanklike Statebondslande geword: die Verenigde koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Pakistan en Ceylon, sowel as hoof van die Statebond. Sy het as 'n konstitusionele monarg regeer deur groot politieke veranderings, onrus in Noord-Ierland, die afwenteling van die Verenigde Koninkryk, die dekolonisasie van Afrika en die onttrekking uit die Europese Unie. Haar aantal ryke het oor tyd gewissel namate gebiede onafhanklik geword en sommige ryke republieke geword het. Haar baie historiese besoeke en ontmoetings sluit in 'n staatsbesoek aan die Republiek Ierland in 2011 en besoeke aan elk van vyf pouse.

Belangrike gebeure sluit in haar kroning in 1953 en die viering van haar silwer-, goue, diamant- en platinumjubileum in 1977, 2002, 2012 en 2022 onderskeidelik. Elizabeth is die Britse monarg wat die langste gelewe en regeer het, die langsregerende vroulike staatshoof in die geskiedenis, en was vir lank die oudste lewende monarg en langsdienende staatshoof. Kritiek het haar en die koningshuis soms in die gesig gestaar, veral ná die mislukking van haar kinders se huwelike, haar annus horribilis in 1992 en die dood van haar voormalige skoondogter Diana, Prinses van Wallis, in 1997. Steun vir die monargie in die Verenigde Koninkryk en haar persoonlike gewildheid het egter altyd hoog gebly.

  1. Furness, Hannah (8 September 2022). "Queen Elizabeth II dies aged 96 at Balmoral". The Daily Telegraph.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search